Kliek hier om die artikel af te laai.
DEUR CASSIE NIENABER
In die eerste twee artikels oor akkuraat skiet het ek algemene skietwenke gegee en die metode verduidelik hoe jy jou geweer moet pak sodat die staal mooi knus in die hout lê. Daar is nog ’n aantal aspekte van akkuraat skiet wat ons gaan behandel – in hierdie artikel verduidelik ek die begrip MOA en ook hoe om ’n kollimator of bore-sighter te gebruik. Miskien sal sommige verwag dat ek eers moes verduidelik het hoe om ’n teleskoop te monteer. As jy egter die begrip MOA verstaan en weet hoe om met ’n kollimator te werk, sal dit die montering van ’n teleskoop makliker maak, want ek verkies om my kollimator te gebruik tydens die monteerproses. Lees gerus aan, julle sal mettertyd beter verstaan.
‘n Kollimator word vooraan die geweerloop gekoppel om die teleskoop rofweg te kan instel.
So lyk die prentjie as jy deur ‘n teleskoop na die kollimator loer.
Die term MOA word dikwels gebruik wanneer skuts na die grootte van groeperings verwys.
MOA (MINUTE OF ANGLE)
Die term MOA word baie algemeen gebruik deur skuts wanneer hulle oor groepering en akkuraatheid praat, maar daar is steeds mense wat nie presies weet wat daarmee bedoel word nie. In die eenvoudigste taal uitgedruk, is MOA ’n eenheid waarin ons meet of anders gestel, dit verteenwoordig ’n sekere numeriese waarde op ’n vaste afstand. Byvoorbeeld: 1MOA verteenwoordig ’n afstand van een duim op 100 jaarts of 25.4mm op 91.44m. Kom ek verduidelik beter. ’n Sirkel bestaan uit 360 grade. Elke graad kan onderverdeel word in 60 minute. Die term MOA verwys daarom na ’n hoekgrootte van 1 minuut (1/60 van ’n graad). Die vertikale afstand wat tussen die twee bene van die hoek onderspan word, is op 100 jaarts 1.0472” (duim).
In Amerika gebruik hulle die Imperiale stelsel waar daar in duime, voete en jaarts gemeet word. In die praktyk rond ons normaalweg die getal af en aanvaar vir praktiese doeleindes dat 1MOA presies 1” (duim) op 100 jaarts is. In Suid-Afrika gebruik ons die metrieke stelsel (mm, cm en meter) en daarom is ons skietbane ook in afstande van 100m gemerk. Die meeste skuts aanvaar dus sommer (of rond af) dat 1MOA ook een duim op 100m is. Dit is natuurlik nie korrek nie.
Onthou dat 100m, 8.56m verder is as 100 jaarts. Inderwaarheid is 1MOA op 100m dus 29.08882mm of afgerond, 29.1mm. Op 200 en 300 jaarts of meter verdubbel en verdriedubbel die meeteenheid se waarde. Een MOA op 300m is dus 29.1mm vermenigvuldig met drie wat 87.3mm is, of presies drie duim op 300 jaarts. Baie mense dink verkeerdelik dat 1MOA op 300m steeds 29.1mm of een duim moet wees en gebruik dit ook so.
Wanneer skuts die grootte van hul groeperings meet, gebruik hulle ook die term MOA. ’n Groepering van 1MOA beteken dus dat die koeëlgate (gemeet van die middel van die verste twee gate) nie verder as een duim uitmekaar is nie. In Suid-Afrika rond ons sommer af en beskou 1MOA as 25.4mm op 100m. ’n Geweer wat ten minste drie tot vyf skote binne daardie magiese 1MOA op 100m of 100 jaarts kan plaas, word in die algemeen beskou as akkuraat genoeg vir die meeste jagdoeleindes vir afstande tot op ongeveer 250m.
Nou, Suid-Afrikaners koop meestal teleskope van Amerikaanse oorsprong en op almal van hulle word aangedui dat een kliek van die stelknop (turret) die impak van die koeël met ’n ¼MOA sal skuif op 100 jaarts. Vier klieks sal dus die impak van die koeël presies een duim aanskuif op 100 jaarts. Baie mense dink verkeerdelik of rond af dat een kliek ook op 100m die koeël se impak met ’n ¼” gaan skuif. Op 100m skuif die impak egter 7mm, wat meer is as ’n ¼”.
Europese vervaardigers dui deesdae hul teleskope se stelafstande in cm aan, byvoorbeeld een kliek verskuif die koeëlimpak met 0.5cm of 1cm op 100m.
Of teleskope nou in MOA of cm stel, maak nie saak nie. Een van die algemene probleme wat met baie teleskope ondervind word, is dat hulle nie die presiese afstande stel soos wat voorgehou word deur die vervaardiger nie.
Wat elke skut dus moet doen, is om fisies op die skietbaan met sy geweer te gaan skiet en te bepaal presies hoeveel die koeël se impak skuif as die stelknop byvoorbeeld vier of agt klieks aangedraai word. As jou teleskoop presies stel soos aangedui, is dit goed maar wat doen jy as dit nie die geval is nie? Wel, jy kan of ’n tabel opstel oor die werklike verstelling, of jy kan maskeerband om die stelknop draai en jou eie merkies maak wat aandui hoeveel klieks jy moet stel om die koeël se impak byvoorbeeld 25 of 30mm op 100 jaarts of 100m aan te stel.
Wat elke skut dus moet doen, is om fisies op die skietbaan met sy geweer te gaan skiet en te bepaal presies hoeveel die koeël se impak skuif as die stelknop byvoorbeeld vier of agt klieks aangedraai word. As jou teleskoop presies stel soos aangedui, is dit goed maar wat doen jy as dit nie die geval is nie? Wel, jy kan of ’n tabel opstel oor die werklike verstelling, of jy kan maskeerband om die stelknop draai en jou eie merkies maak wat aandui hoeveel klieks jy moet stel om die koeël se impak byvoorbeeld 25 of 30mm op 100 jaarts of 100m aan te stel.
As jy eenvoudig aanneem dat jou teleskoop stel soos die vervaardiger aandui, kan jy foute op langer afstande maak wat jou duur te staan kan kom.
Gestel jou geweer is op 100m ingestel, maar jy wil na ’n bok skiet wat op 300m staan. Volgens jou berekeninge moet jy, kom ons sê maar, 4MOA of 16 klieks op stel om die teleskoop op 300m te zero. Stel jy nou die 16 klieks aan, maar die teleskoop stel nie soos dit veronderstel is om te doen nie, gaan jy te laag of te hoog skiet. Die kruks van die saak is, jy moet weet wat die waarde van 1MOA op 100 jaarts of 100m is en of jou teleskoop stel soos aangedui anders gaan jy nie skiet waar jy mik op langer afstande nie.
KOLLIMATORS
Die doel van ’n kollimator is om die teleskoop se kruishaar en die loop van die geweer min of meer in lyn te bring. Jy stel dus die teleskoop in sodat jou geweer iewers tussen 25 en 100m darem met die eerste skoot op die papier skiet. Dit vergemaklik die inskietproses van die teleskoop/geweer en spaar patrone. Onthou, al is die teleskoop met behulp van ’n kollimator ingestel, sal die geweer nie noodwendig in die kol skiet nie.
Wat presies is ’n kollimator? Dis ’n apparaat wat vooraan die geweer se loop/tromp gekoppel word nadat jy die teleskoop gemonteer het. Kyk jy nou deur die teleskoop na die kollimator sal jy in die apparaatjie ’n ruitpatroon (grid) sien waarvan die middelste horisontale en vertikale lyne duidelik gemerk is. Die teleskoop se kruishaar moet gestel word sodat dit en die middelste lyne van die ruitpatroon ooreenstem. Dan behoort die kruishaar en die geweerloop op min of meer dieselfde plek te mik.
Die gebruik van ’n kollimator is handig, want dit dui dadelik vir jou aan of daar enige potensiële probleme met jou teleskoopmonterings is. Nuwe teleskope se kruishare word in die fabriek só gestel dat die kruishaar in die middel van die totale verstelspektrum lê. As die kruishaar dus nie naastenby in die middel van die ruitpatroon wys nie, weet jy dadelik die teleskoop is baie ver “uit” en dat jy stellig verstellings (indien moontlik) aan jou monterings sal moet doen. Wanneer ’n teleskoop ingestel word, wil jy so min moontlik aan die stelknoppe draai, want vir die mees betroubare werkverrigting moet die kruishaar so naby as moontlik aan die middelpunt van die verstelspektrum lê nadat die geweer/teleskoop ingestel is.
Om die gebruik van ’n kollimator maksimaal te benut, gebruik ’n betroubare model en sorg dat dit korrek aan die geweer gekoppel is. Maak ook eers die geweer veilig en verwyder die slot.
Bushnell verskaf ’n kollimator met penne wat in die geweerloop pas. Vooraan is ’n veer wat uitskop in die loop en verseker dat die kollimatorpen styf in die loop pas en so die kollimator in posisie hou. Die deursnee van die penne kan verstel om in lope van verskeie kalibers te pas. So ’n Bushnell kos ongeveer R2 500. Daar is ook kollimators wat magnete gebruik om hulle aan die loop te koppel. Ek gebruik ’n Scope Aligner van Nikko Stirling. Dis ’n tradisionele kollimator met verskillende deursnee penne (pilots/arbors) vir verskillende kalibers en kos ongeveer R600.
Sit die kollimator altyd op dieselfde manier aanmekaar. Kies die korrekte deursnee pen (die kaliber is daarop gemerk). Die penne het plat vlakke waarteen die skroef, wat dit aan die kollimator heg, moet vasdraai. Maak seker die agterkant van die pen is mooi gelyk met die kollimator se romp. Om moontlike skade aan die loop/kroon te beperk, smeer ’n bietjie ghries aan die pen en veral sy veer. Klamp die geweer in ’n bankskroef met beskermde kake vas en druk die pen versigtig voor by die tromp in tot die kollimator teen die loop vasdruk. Tik/ trommel met jou vingers aan weerskante van die loop sodat die pen homself lekker vestig. Draai die kollimator stadig sywaarts totdat die kruishaar se vertikale bene mooi ooreenstem (parallel is) met die vertikale lyne van die kollimator se ruitpatroon.
Bevestig deurentyd dat die kollimator teen die loop vasgedruk bly.
Aangesien daar ’n effe los passing tussen die loop en die pen is, is dit moontlik dat die kollimator nie elke keer presies op dieselfde plek in die loop gaan anker nie. Vóór ek dus verstel, kyk ek waar wys die kruishaar op die ruitskaal, trek die kollimator so 15mm uit, druk dit terug tot teen die loop, trommel weerskante van die loop en stel weer parallel. Ek herhaal dit ’n paar keer totdat ek seker is waar die kollimator se beste ankerpunt is. Nou is jy reg om die kruishaar te stel.
Wanneer jy deur die teleskoop na die kollimator se ruitpatroon kyk, onthou dat die kollimator binne die geweerloop geanker is. Die middelpunt van hierdie skaal of ruitpatroon dui dus aan waarnatoe die loop wys (waar die koeël sal tref), en die kruishaar dui natuurlik aan waarnatoe jy deur die teleskoop kyk. Teleskope se stelknoppe is gemerk asof jy die koeël se impakpunt (die geweerloop) skuif na waar die kruishaar kyk. Dus, indien die kruishaar hoog en links van die ruitpatroon se middelpunt wys, stel jy die stelknop na hoog en links toe (dit klink verkeerdom, maar dis reg). Wys die kruishaar laag en links van die ruitpatroon se middelpunt stel jy die stelknop na laag en links. Eintlik hoef jy glad nie te onthou hoe om te stel nie. Kyk bloot deur die teleskoop na die ruitpatroon en terwyl jy dit doen, draai die stelknop. Jy sal dadelik sien in watter rigting die kruishaar beweeg. As dit weg van die middelpunt af stel, draai jy die stelknop eenvoudig na die teenoorgestelde kant totdat die kruishaar presies na die middelpunt van die ruitpatroon wys.
’n Kollimator is egter baie meer veelsydig as om slegs die teleskoop en loop rofweg op te lyn: Maak aantekeninge van die kruishaar se posisie soos op die kollimatorskaal nadat jy ingeskiet het. Jy kan die kollimator dus gebruik om ’n teleskoop af te haal, weer te monteer of te vervang en dit in te stel soos op die aantekeninge.
Ondervinding het gewys dat ek met die kollimator se gebruik dikwels minder as 10 klieks hoef te stel om die geweer op teiken te bring. Indien jou teleskoop val of gestamp word, kan jy ook vinnig bevestig of alles nog op lyn is. Soos vroeër genoem, weens die dinamika van skiet, wys die kruishaar nie noodwendig in die middel van die skaal wanneer die geweer ingeskiet is nie.
Gebruik die kollimator om te bepaal of die aksie of loop aan spanning of drukpunte onderhewig is. Kyk wat gebeur met die kruishaar op die skaal as die geweer se borgskroewe los en weer vasgedraai word. Beweging van die kruishaar dui op probleme wat akkuraatheid kan beïnvloed.
Die herhaalbaarheid en presisie van die teleskoop se verstellings kan ook getoets word deur die beweging tydens verstelling op die kollimatorskaal te volg.
’n Teleskoop werk op sy beste wanneer die kruishaar so na as moontlik aan die middelpunt van die verstelspektrum is. Vir my is die handigste gebruik van ’n kollimator juis dit. Nadat jy die posisie van die kruishaar bepaal het, kan jy aan die basisse en ringe werk totdat die teleskoop so na as moontlik “kyk” na waar die geweerloop wys sonder om aan die stelknoppe te draai. Meer daaroor in die volgende artikel.