Kliek hier om die artikel af te laai.

Iets waaroor sommige herlaaiers reeds ’n geruime tyd droom, het waar geword. Waar ons in die verlede aangewese was slegs op plaaslike dryfmiddels (geweer- en pistoolkruit) is daar nou verskeie alternatiewe, ingevoerde dryfmiddels in plaaslike vuurwapenwinkels beskikbaar. Die meeste van julle het seker ook al gehoor hoe die wonderlike eienskappe van hierdie “nuwe” dryfmiddels besing word. Gerugte wil dit hê dat hierdie dryfmiddels glad nie temperatuursensitief is nie, dat geweerlope skoner bly as jy dit gebruik en langer hou, dat dit baie makliker is om daarmee goeie, akkurate ladings te ontwikkel, ensovoorts, ensovoorts. Luister jy na al die kommentare, klink dit amper asof ons onsself nou in die herlaaihemel bevind!

DIE KOMPONENTE VAN ’N ENJIN

Indien jy voel dat die volgende gedeelte in ’n ander tydskrif tuishoort, gee my ’n kansie, ek het iets om te verduidelik. Wanneer die onderskeie onderdele van ’n enjin aanmekaar gesit is en die enjin aangeskakel word om te werk, sien ons glad nie meer die onderdele as losstaande van mekaar nie… hulle word in geheel gesien as ’n werkende enjin. Dis ’n feit dat enjins beter werkverrigting lewer indien hulle gebou word met uitgesoekte en uniforme komponente van gehalte.

Ammunisie (patrone) werk ook maar so. Sodra die onderskeie komponente bymekaar gevoeg is, het ons ’n eenheid soos ’n enjin wat in staat is om ’n spesifieke taak te verrig. Onthou dat die proses wat plaasvind tydens die afvuur van ’n patroon, dinamies is. Dit beteken dat elke komponent in daardie patroon ’n onderlinge invloed het op die werkverrigting van die ander komponente. Daar is dus altyd ’n mate van leer en weer probeer (trial and error) in ons proses om die ideale kombinasie van komponente te vind. Die herlaaier moet komponente van uniforme gehalte vind, en dan dit gebruik wat optimaal en in harmonie kan saamwerk teen die ideale koeëlsnelheid vir sy geweer.

BO: Jaco Smit se .308 Win, N150 vs S335:

Alles in ag genome, is die groeperings prakties baie eenders. Indien ons onnodig moeilik wil wees, kan ons sê dat die 150gr en 165gr Noslers effe beter met S335 presteer het en die Lapua en Peregrine 167-greiners beter met Vihtavuori N150. Met nog ’n bietjie tyd en aandag mag ek dalk wel die koeëls kry om presies dieselfde akkuraatheid met beide dryfmiddels te lewer.s.

BO: Jan Wibbelink se .260 Rem, N550 vs S355:

Die 123gr Lapuas groepeer beter met S335, maar die koeëlsnelheid verskil met 48vps. Berger se 130gr-koeëls groepeer dieselfde met beide dryfmiddels.

BO: Johan Griesel se .300 WSM, N550 vs S365:

Indien ek die ooglopende wydloperskote ignoreer, is hierdie groeperings weereens prakties baie dieselfde.

OPTIMALE INSTEL

Nadat ’n enjin gebou is, moet ’n klomp dinge daaraan, soos ontstekingstyd, vonkpropgapings, klepspelings, ensovoorts ingestel word tot daardie enjin mooi glad loop en optimaal werk. Net so met die patrone wat ons herlaai. Die herlaaier behoort nie, MAG eintlik nie, sommer net die komponente mog-het-troffe aanmekaarflans nie.

Die einddoel van herlaai is om die ammunisie só te laai dat die patrone veilig en optimaal funksioneer. Vir ’n spesifieke koeël om akkuraat uit ’n spesifieke geweer te skiet, is dit ’n vereiste dat daardie koeël teen ’n spesifieke koeëlsnelheid uit daardie geweer gelanseer moet word. Die herlaaier moet hierdie spesifieke koeëlsnelheid deur eksperimentering vind. Moet nooit aanvaar dat twee van dieselfde model gewere van ’n spesifieke fabrikaat wat langs mekaar op die rak staan en oënskynlik eenders lyk, eenderse akkuraatheid en koeëlsnelheid sal lewer nie.

Ek het al vir ses gewere van dieselfde fabrikaat en model ladings ontwikkel en nie een van hulle hou van dieselfde koeël of lading nie. Hulle skiet heeltemal verskillend met dieselfde komponente. Daarom sê ek: Moenie van ’n geweer verwag om goed met sekere komponente te skiet nie, toets en vind uit wat die geweer se voorkeure is om die maksimum akkuraatheid en optimale werkverrigting te lewer.

Om jou patroonenjin mooi ingestel te kry, moet jy begin deur gehalte en uniforme komponente te gebruik en jy moet bereid wees om te eksperimenteer totdat jy die ideale lading/ koeëlsnelheid (vir jou spesifieke geweer en patroonenjin) vir maksimum akkuraatheid en optimale werkverrigting ontdek.

BO: Dirk van Reenen se .300 Ultra Magnum, N560 vs S385:

 Let mooi op na hierdie kaliber se naam, daar staan Ultra voor Magnum. Hierdie dop kan tot 97gr dryfmiddel neem met 100% dopvulling. Neem dit in ag by die groeperings. Om dié geweer te skiet, is nie ’n grap nie.

Dit is juis hierdie soekery na waarvan die geweer hou wat ons die meeste laat sukkel. Dit is maar soos om te besluit om kinders te hê en hulle sonder ’n handleiding groot te kry. Voor jy geweer koop en besluit het om te herlaai, moet jy weet daar sal groeipyne wees en dat sukkel en soek maar deel daarvan sal wees. Vasbyt, elke geweer het sy eie resep wat gevind moet word, daarom herlaai ons!

WATTER BRANDSTOF/DRYFMIDDEL IS DIE BESTE?

Met voertuie werk dit so dat brandstowwe met ’n hoër oktaan hoër werkverrigting lewer. Dieselfde geld vir die dryfmiddels wat ons in patrone gebruik. Verskillende dryfmiddels het verskillende “oktane”/werkverrigtings en alle dryfmiddels is nie noodwendig geskik vir gebruik in alle wapens nie. Gebruik slegs die dryfmiddels soos aanbeveel in herlaaihandleidings vir die komponente soos wat jy gebruik.

Solank ek by die aanbevole tipe en oktaan brandstof vir my spesifieke voertuig hou, sal ek nie ’n waarneembare/ noemenswaardige verskil in die werkverrigting van my motor voel nie, al gebruik ek verskillende verskaffers se brandstowwe wat die soortgelyke oktaaninhoud bevat. My mening oor dryfmiddels is maar dieselfde. Jy sal meestal die gewenste resultaat verkry al gebruik jy verskillende vervaardigers se aanbevole dryfmiddels vir ’n spesifieke kaliber. Hou altyd in gedagte dat die aanbevole ladings vir die verskillende dryfmiddels kan wissel om dieselfde koeëlsnelheid te behaal.

Die vraag wat ek eintlik probeer beantwoord is of een dryfmiddel werklik as inherent beter en akkurater as ’n ander gereken kan word.

VERGELYKINGS TUSSEN VIHTAVUORI EN SOMCHEM-RDM

Ek gebruik grotendeels Rheinmetall Denel Munition (Somchem-RDM) se enkelbasis- of stokkiesdryfmiddels soos, S335 S355, S365 en S385. Gelukkig het ’n paar kliënte gevra dat ek tydens ladingontwikkeling vergelykende toetse moet doen tussen hierdie vier Somchem- dryfmiddels en Vihtavuori se N150, N550 en N560, (sien diagramme/ foto’s). In my toetste is kalibers oor ’n wye spektrum gebruik om te sien of daar enige verskil in akkuraatheid is wanneer Somchem-RDM en Vihtavuori gebruik word.

Neem die volgende in ag tydens die beoordeling van die teikens:

• Vir finale beoordeling, verkies ek vyfskootgroeperings omdat die akkuraatheidspotensiaal daarmee groter is as met drieskootgroeperings. Sogenaamde wydlopers (flyers) wys duidelik met vyfskootgroeperings en kan dus geïgnoreer word.
• Lae waardes vir statistiese aanduiders soos standaard-afwyking (standard deviation of SD) en ekstreme verspreiding (Extreme spread of ES) dui op meer uniforme koeëlsnelheid.
• Sommige herlaaiers heg daarom baie waarde hieraan en gaan selfs so ver om dit te gebruik as die grootste of enigste aanduider van akkurate ladings.
• My ondervinding is dat dit nie noodwendig altyd so is dat ladings met lae SD- en ES-waardes ook die akkuraatste skiet nie. Julle sal merk dat die SD en ES soos aangedui langs die teikens wys dat die akkuraatste ladings soms die hoogste (swakste) waardes toon.
• Ten spyte van al ons somme en planne bly die bepalende faktor dit wat op die teiken gebeur. Die ideaal is natuurlik ’n akkurate lading met lae SD- en ES-waardes, nieteenstaande, ek skiet altyd eerder die akkurater lading.
• In my toetse het ek nie altyd presies dieselfde koeëlsnelheid met vergelykende dryfmiddels behaal nie. Neem in ag dat dit wel soms ’n invloed op die groeperings kan hê. Die resultate kon moontlik nog effe anders/beter lyk indien ek aangehou het met lading ontwikkeling tot by dieselfde koeëlsnelheid. Bogenoemde punte in ag geneem, gaan ek nie hare kloof oor die SD- en ES-waardes nie, maar ek gaan ooglopende flyerskote ignoreer en my besluite neem streng op grond van die algemene groeperings soos op die teikens. Die groeperings is tog seker uiteindelik die belangrikste bepalende faktor van akkuraatheid.

Die relevante inligting vir elke teiken word op die diagramme/ foto’s aangedui (sien meegaande beskrywing vir meer inligting). Alle groeperings is op 100m geskiet. Hier kon ek die spoed met beide dryfmiddels bring tot binne 1vps van mekaar en die groeperings is weereens prakties gesproke byna identies in grootte.

GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

My gevolgtrekking is dat die onderskeie dryfmiddels soortgelyke akkuraatheid gelewer het. Alhoewel ek ’n beperkte aantal toetse gedoen het, kan ek op grond van die resultate nie ’n duidelike wenner uit die dryfmiddels kies nie.

Om my eie vraag te beantwoord: Ek glo nie dat een dryfmiddel werklik akkurater as ’n ander gereken kan word nie. My ondervinding is dat ek nog altyd akkurate ladings en die gewenste resultate met Somchem- RDM se dryfmiddels kon behaal, en ek kon nou dieselfde met Vihtavuori doen.

Is Vihtavuori minder temperatuursensitief , bly lope wel skoner en hou langer? Ek het my bedenkinge, maar het nie genoeg inligting of blootstelling om my daaroor uit te spreek nie. Ek volstaan by my vroëere stelling dat die gewenste resultaat beslis verkry kan word met jou wapen en komponente deur bykans enige vervaardiger se aanbevole dryfmiddel vir jou kaliber te gebruik.

Herlaaiers se bydrae tot Somchem- RDM se jaarlikse omset deur die aankope van dryfmiddel, is in der waarheid baie minder as baie min. Ingevoerde dryfmiddels is veel duurder as dié van Somchem-RDM. Wat sal die gevolg wees indien Somchem- RDM ophou om dryfmiddels aan die plaaslike mark te lewer? Ons sal op die veel duurder ingevoerde dryfmiddels aangewese wees en dit kan ons dalk erg kniehalter. Ek glo ons moet ons plaaslike vervaardiger ondersteun solank ons kan.

* Kontak Cassie via www. mamba-reloading.co.za